Pous-skieter vrygelaat
2010-01-18 16:29
Ankara, Turkye – Die Turkse man wat Pous John Paul II in 1981 geskiet het is Maandag na sowat 29 jaar in die tronk vrygelaat.
Mehmet Ali Agca het vriendelik vir joernaliste gewaai toe hy by die gevangenis uitgestap het. Hy is na ‘n militêre hospitaal geneem waar daar bepaal moet word of hy geskik is om sy verpligte militêre diens uit te dien.
‘n Verslag vanaf ‘n militêre hospitaal in 2006 het getoon dat Agca “antisosiale persoonlikheidsversteurings” het. Die 52-jarige het glo gereeld uitbarstings gehad en na homself as die Messias verwys.
Hy het ook in ‘n persverklaring, wat deur sy prokureur buite die tronk voorgelees is, gesê: “Ek sien die einde van die wêreld. Die hele wêreld sal in hierdie eeu verwoes word. Elke mens sal sterf.”
Agca het Pous John Paul II op 13 May 1981 in sy motor tydens ‘n optog in St. Peters-plein geskiet. Die Pous het die voorval oorleef en in 1983 tydens ‘n besoek aan die gevangenis vrede met Agca gemaak.
–Sapa, AP