Pous sê vaarwel
2013-02-28 09:19
Vatikaanstad – Pous Benedictus het Donderdag sy laaste aand in sy woning in die Vatikaan deurgebring nadat hy ‘n emosionele afskeidstoespraak voor 150 000 pelgrims in St Petrusplein gelewer het.
Die Duitse pous is met krete en uitroepe verwelkom. Reuse-plakkate het boodskappe soos “Benedictus, ons sal jou mis!” en “Die pous is die hart van hierdie stad” op gehad.
Die 85-jarige geestelike leier het in sy toespraak gepraat oor “stormagtige waters” in verwysing na die verskeie skandale wat die kerk geruk het gedurende sy termyn as pous. Hy het gesê sy besluit om te bedank was in die belang van die Katolieke kerk.
“Die Here het vir ons dae van son en van ligte briesies gegee, dae waar die visvang goed was,” het die hoof van die wêreld se 1,2 miljard Katolieke gesê.
“Daar was ook oomblikke wat daar stormagtige waters en kopwinde was... asof God geslaap het.
“Maar ek het altyd geweet dat God in daardie boot was en ek het altyd geweet die boot van die kerk is nie myne nie, is nie ons s’n nie, maar dit is syne en hy sal dit nie laat sink nie,” het hy gesê.
“Ek het nooit alleen gevoel nie,” het hy bygevoeg.
Joseph Ratzinger het die wêreld geskok met sy skielike besluit om na agt jaar as Katolieke leier uit te tree.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP