'Pous moet bedank'
2010-10-01 20:39
Brussel – Pous Benedict XVI moet bedank oor die Katolieke Kerk se priester pedofilieskandaal, het die hoof van ‘n ondersoek wat honderde mishandelingsake in België onthul, Vrydag gesê.
Peter Adriaenssens, 'n kindersielkundige, het aan die Vlaamse koerant De Morgen gesê dat die pous verantwoordelikheid vir die krisis moet neem.
Die pous moet nie net sy verdriet uitdruk nie, het Adriaenssens gesê.
“Hy moet sy bedanking aanbied.”
Adriaenssens het op 10 September ‘n verslag vrygestel wat onthul dat amper 500 mense mishandeling deur priesters sedert die 1950’s aangemeld het.
Die verslag het ook aangetoon dat dertien slagoffers selfmoord gepleeg het.
Die bekendmaking van mishandeling deur priesters in België, Ierland, Duitsland en die VSA het die Katolieke Kerk se grootste krisis in dekades veroorsaak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP