Pous kritiseer gay huwelike
2010-01-12 03:15
Vatikaanstad - Pous Benedictus XVI het wetgewings wat die verskille tussen die manlike en vroulike geslag ignoreer, as ‘n “aanval” op die skepping bestempel.
Dié stelling is gemaak kort nadat Portugal stappe geneem het om gay huwelike wettig te maak.
Wesens, mense inkluis, “kan of beskerm of bedreig word” het die pous (82) aan die Vatikaanse diplomatieke afdeling tydens die tradisionele Januarie toespraak, gesê.
Sy toespraak het meestal op omgewingsake gefokus.
“Wetgewings en mosies wat kwansuis diskriminasie teenwerk, is ‘n direkte aanval op die biologiese basis vir die verskil tussen mans en vrouens,” het hy gesê.
Hy het spesifiek na sekere Europese lande sowel as Noord- en Suid-Amerika verwys.
Die Portugese parlement het planne om gay huwelike wettig te maak, goedgekeur.
Die finale stemmery vir dié nuwe wetgewing, sal moontlik voor die pous se besoek aan Portugal plaasvind.
- AFP