Pous kalm ná terreur-dreigement
2010-09-18 02:06
Londen - Die polisie in Engeland het Vrydag ‘n vullisdepot deursoek en ses straatveërs in hegtenis geneem in wat beskou word as ‘n sameswering tot terreur teen Pous Benedictus XVI.
Die geestelike leier het egter onverskrokke voortgegaan om sy boodskap oor te dra – om Brittanje se geestelike en sekulêre skeiding te oorbrug en te pleit vir ‘n groter rol vir geloof in die openbare domein.
Ondanks die ses inhegtenisnemings het die pous nie afgewyk van sy skedule, ryk in simboliek in die amptelik Protestante land met ‘n geskiedenis van anti-katolieke sentimente, nie. Hy het gebid saam met die aardsbiskop van Canterbury en het die eerste pous geword om in Westminster Abbey te bid.
Pous Benedictus XVI het ook politieke, kulturele en sakeleiers in Westminster Hall, eeue lank die sentrum van Britse politieke lewe, aangespreek. Hy het die “legitieme rol van geloof in die openbare domein” verklaar.
Onder meer was Tony Blair, ‘n bekende bekeerde tot die Katolieke geloof, teenwoordig, asook die voormalige eerste ministers Margaret Thatcher, John Major en Gordon Brown.
Die polisie het gesê hulle het inligting ontvang oor ‘n moontlike dreigement teen die pous en die straatveërs toe in hegtenis geneem. Hulle word ondervra.
- Sapa - AP