Pous gedagvaar vir misdade teen die mensdom
2011-09-13 16:59
Vatikaanstad – ‘n Internasionale groep vir die slagoffers van seksuele mishandeling deur priesters dagvaar pous Benedictus XVI deur die internasionale strafhof vir misdade teen die mensdom.
Die Survivors Network of those Abuse by Priests (SNAP) het gesê ‘n klag is by dié hof ingedien om “die pous te vervolg” vir “direkte en oorhoofse verantwoordelikheid vir misdade teen die mensdom, insluitende verkragting en ander seksuele geweld wat oor die wêreld heen gepleeg word.”
SNAP het in ‘n verklaring te kenne gegee lede uit Duitsland, België, Nederland en Amerika het Den Haag besoek om aanklaers aan te moedig om 'n ondersoek na die pous in te stel.
Hulle het ook versoek dat drie hooggeplaaste Vatikaan-amptenare, die kardinaal van buitelandse sake, Tarcisio Bertone, sy voorganger, Angelo Sodano en die raadgewer van die gemeente van die geloofsleerstellings, William Levada, ondersoek word.
‘n Woordvoerder vir die Vatikaan, Federico Lombardi, wou nie kommentaar lewer nie.
Die netwerk van slagoffers, wat in Amerika gebaseer is, het meer as 20 000 bladsye van ondersteunende materiaal, insluitende “verslae, beleidsdokumente en bewysstukke van die misdade wat predikante van die Katolieke kerk teen kinders en kwesbare volwassenes gepleeg het” saam met hul klag ingedien.
“Misdade teen tienduisende slagoffers, meestal kinders, word deur amptenare op die hoogste vlak in die Vatikaan toegesmeer. In hierdie geval lei alle paaie inderdaad na Rome,” het die sentrum se prokureur, Pam Spees, in ‘n verklaring gesê.
Barbara Blaine, die president van SNAP, het gesê: “Ons as slagoffers staan nou oor die wêreld heen op vir ons regte en elke slagoffer is genooi om by ons aan te sluit.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP