Pous druk ‘n kurk in vuvuzelas
2010-08-24 20:18
Londen – Pous Benedictus XVI het sy volgelinge verbied om vuvuzelas na sy openbare opretedes in die Verenigde Koninkryk in September te bring, het die Daily Telegraph berig.
Die omstrede trompette, wat bekendheid verwerf het by aanhangers tydens die Sokkerwêreldbeker, tel onder verskeie items wat nie toegelaat sal word tydens die pous se vier dae lange toer nie.
Alkohol, braaitoerusting, gazebo’s en selfs tradisionele kerse is op die “moenie bring nie”-lysie, volgens die amptelike webtuiste van die Pous se besoek.
Die Telegraph het egter berig dat beamptes die groen lig vir banniere en vlae, komberse en flitsligte gegee het.
Kameras word ook aanbeveel sodat mense hul oomblik naby die Pous kan vasvang.
Meer as 80 000 mense sal na verwagting by Hyde Park in Londen opdaag vir ‘n biddiens saam met die Pous op 18 September.
‘n Woordvoerder vir die besoek is as volg deur die Telegraph aangehaal: “Die verbode items is standaard vir optredes.
"Musiekinstrumente of enigiets wat daardie (Vuvuzela-) klank maak kan nie hierby ingesluit word nie.”
Kerse is om veiligheids- en gesondheidredes verban.
- Volg Nuus24 op Twitter