Poniekoerant gereed vir laaste buiging
2011-07-09 20:04
Londen – Joernaliste van die omstrede poniekoerant News of the World was Saterdag druk besig om die laaste uitgawe van dié koerant, wat 168 jaar in druk was, gereed te maak vir publikasie.
Die eienaar van News of the World, Rupert Murdoch, het aangekondig dat die laaste uitgawe van dié koerant Sondag gepubliseer sal word.
Dié skuif kom ná dit aan die lig gekom het dat die poniekoerant onwettig toegang tot selfoonboodskappe verkry het om sodoende inligting vir stories te versamel.
Murdoch sal Sondag in Londen land, het 'n bron wat anoniem wou bly aan die nuusagentskap The Associated Press gesê.
Intussen werk personeel om die laaste uitgawe van die koerant voor te berei.
"Dis 'n baie hartseer dag," het Colin Myler, huidige redakteur van die koerant, gesê. "Ek dink aan my span talentvolle joernaliste."
Beelde van die koerant se kantoor in die ooste van Londen wat aan Sky News verskaf is toon 'n vertrek net soos enige ander nuuskantoor, met joernaliste wat druk besig is agter hulle rekenaars.
Klein leidrade het egter bevestig dat dit nie 'n normale dag is nie – van 'n T-hemp met die woorde "Totsiens, wrede News of the World, ek verlaat jou vandag" wat deur een joernalis gedra is, tot redakteurs wat huldeblyke aan die koerant se joernalistieke hoogtepunte op koerantblaaie uitgelê het.
Adverteerders het Vrydag soos een man hul advertensies uit die koerant onttrek toe die nuus oor onetiese praktyke aan die lig gekom het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP