Polisielid sleep man agter haar perd aan
2010-09-09 02:39
Moskou - ‘n Polisiebeampte in Moskou, Rusland, is aangekla van magsmisbruik nadat sy ‘n voormalige wetgewer met handboeie aan haar perd vasgemaak en hom agterna gesleep het, het Samara-ondersoekers Donderdag gesê.
Georgy Kutuzov is deur die berede beampte Lydia Kotova voorgekeer tydens ‘n patrollie op 11 Maart. Sy het “onwettig en sonder gronde” Kutuzov aan die perd se saal vasgeboei, luidens ‘n amptelike verklaring.
Kotova het beweer Kutuzov was dronk.
Die perd het weggegalop toe ‘n motor begin toet het. Kutuzov is deur die perd saamgesleep, het ooggetuies aan die Komsomolskaya Pravda-koerant gesê.
Kutuzov, wat ‘n plaaslike wetgewer was tot hy in 1993 afgetree het, het in Mei gesterf nadat hy die hospitaal verlaat het.
- Sapa - AFP