Polisie slaan toe op Britse 'Sun'
2012-01-30 09:00
Londen – Vier joernaliste en ’n polisieman is in hegtenis geneem nadat speurders Saterdag op die Britse poniekoerant The Sun se kantore en die verdagtes se huise toegeslaan het. Hulle is in hegtenis geneem in ’n ondersoek na polisielede wat glo omgekoop is om inligting aan die joernaliste te verskaf.
The Sun is die koerant in Brittanje met die grootste sirkulasie en verkoop 2,5 miljoen eksemplare per dag. Dit behoort aan Rupert Murdoch se mediagroep News Corp. Die Sondagkoerant News of the World, wat in Julie toegemaak het ná ’n meeluisterskandaal waarby van sy joernaliste betrokke was, was deel van dieselfde mediagroep.
Volgens die polisie is die joernaliste en geregsdienaar in hegtenis geneem ná inligting wat deur Murdoch se News Corporation, wat in Amerika gesetel is, verskaf is.
Daar word bespiegel dat dié inligting aan die polisie deurgegee is in ’n poging om die maatskappy se naam in ere te herstel.
Die BBC en die Guardian het die joernaliste geïdentifiseer as die voormalige adjunk-redakteur Fergus Shanahan, voormalige besturende redakteur Graham Dudman, misdaadverslaggewer Mike Sullivan en die hoof van die nuusafdeling, Chris Pharo.
Die vier en die polisieman wat aangekeer is, maar nog nie geïdentifiseer is nie, is Sondagmiddag op borgtog vrygelaat.
In ’n e-pos aan personeel van The Sun sê die uitvoerende hoof van die Britse been van News International, Tom Mockridge, dat die maatskappy regshulp aan die mans beskikbaar gestel het.
“Ondanks dié moeilike situasie is ons oortuig dat News International as ’n sterker en betroubaarder organisasie sal uitstyg.
“Ons moet almal vir Dominic (Mohan, redakteur van The Sun) ondersteun.
“Hy sal sy personeel lei om Maandag en ook daarna soos altyd ’n fantastiese koerant uit te gee.”
Volgens Scotland Yard is die inligting aan hulle verskaf deur News Corporation se komitee oor bestuursake en standaarde.
“Dit het te doen gehad met verdagte betalings wat aan lede van die polisie gemaak is.”
News Corp. het bevestig dat vier van die mans wat in hegtenis geneem is, by The Sun werk of voorheen daar gewerk het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP