Polisie lê beslag op kokaïen-trofee
2010-07-04 00:51
Bogota, Colombië - Aanhangers wêreldwyd het replikas van die Wêreldbeker-trofee wat uit alles van papiermaché tot plastiek gemaak is, maar 'n boef in Colombië wen die prys vir die mees oorspronklike materiaal: kokaïen.
Kol. Jose Piedrahita sê owerhede in Colombië het die ongewone beeld tydens 'n roetine ondersoek in 'n pakhuis by Bogota se internasionale lughawe gevind.
Die 36 cm hoë beeld was in 'n boks en onderweg na Madrid, Spanje. Dit was goud geverf met groen strepe op die basis.
Piedrahita het Saterdag gesê toetse het bevestig dat die trofee uit 11 kg kokaïen gemaak is. Dié dwelm is met asetoon (verfverwyderaar) gemeng om dit vormbaar te maak.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP