Polisie kry pop pleks van baba-lyk
2009-11-06 09:58
Wellington – Die Nieu-Seelandse polisie het 'n pop in plaas van 'n lyk in 'n kis gevind tydens die ondersoek na die beweerde dood van ‘n baba.
Volgens 'n plaaslike koerant, die Manukau Courier, was dit die werk van 'n 33-jarige vrou wat nie aan haar vriend wou erken dat sy verkeerd was oor haar swangerskap nie.
Die vrou het glo aan die koerant erken dat sy die begrafnis gereël het om haar vriend te fnuik oor die baba se vroeë dood.
Die man wou glo graag ‘n baba gehad het.
“Ons het ‘n onderhoud met die beweerde ma gehad, en sy het erken dat daar geen lyk in die graf was nie,” het 'n speurder, Darrell Harpur, aan die koerant gesê.
Volgens Harpur het die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie, aanvanklik geglo sy is swanger, soos haar vriend dit wou gehad het. Sy het egter later uitgevind dit is nie die geval nie.
“Om een of ander rede kon sy hom nie die waarheid vertel nie.”
Volgens die speurder het die polisie die kis in die Mangere Lawn-begrafplaas geondersoek nadat owerhede snuf in die neus gekry het oor ‘n versoek om geboorte- en doodsertifikate uit te reik sonder doktersertifikate as bewyse.
Die polisie vermoed die vrou het slegs die waarheid aan haar vriend erken oor die vals begrafnis, en dat die meeste van haar familie steeds glo daar was ‘n baba in die graf.
- Sapa