Polisie fnuik groot terreuraanslag in Berlyn
2011-09-09 08:04
Den Haag – Die Berlynse polisie het waarskynlik ’n groot terreuraanslag in dié stad – wat moontlik sou saamval met die herdenking van die 9/11-aanvalle tien jaar gelede – gefnuik.
Twee mans is Donderdag in hegtenis geneem in ’n moskee in die buurt Wedding, ’n agterbuurt waar groot getalle Moslems woon.
Die twee is ’n Duitser van Libanese afkoms (24) en ’n man uit die Gasastrook (28). Hul name is nie bekend gemaak nie.
Volgens die poniekoerant Bild-Zeitung studeer die 24-jarige man medies aan die Berlynse Humboldt-universiteit. Hulle word verdink van, soos die polisie se droë formulering lui, “voorbereiding van ’n swaar staatsgevaarlike gewelddaad”.
Die polisie het klopjagte op die moskee en die twee mans se woonstelle in die buurte Kreuzberg en Neukölln uitgevoer. Verskeie chemiese stowwe is gevind wat gebruik kan word om bomme te maak, soortgelyk aan die stowwe wat die Noor Anders Breivik onlangs gebruik het om ’n kragtige motorbom in Oslo te laat ontplof.
Luidens berigte hou die Berlynse polisie die twee mans al twee maande lank dop. Hulle kon egter nie vroeër toeslaan nie omdat die verdagte uit die Gasastrook hom in Libanon bevind het en eers ’n paar dae gelede na Duitsland gekom het.
Maandag het die minister van binnelandse sake, Hans-Peter Friedrich, gewaarsku dat tot ’n duisend moontlike Islamitiese terroriste hulle op Duitse grondgebied bevind. Van hulle word 128 as besonder gevaarlik beskou, en van dié getal is minstens 20 in die buiteland opgelei.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger