Polisie buit reuse heroïne vangs
2009-08-26 11:56
Yangon, Mianmar – Die polisie het 36 kg heroïne en rondom drie miljoen meta-amfetamien pille in ‘n klopjag gekonfiskeer.
Vier mense is in hegtenis geneem toe die polisie Maandag ‘n huis in die dorp Tachilek binnegestorm het, het Mianmar se staatsmedia berig.
Tachilek is geleë in die Goue Driehoek, ’n area tussen Laos, Mianmar en Thailand wat berug is vir dwelmhandel.
Mianmar word beskou as die wêreld se tweede grootste heroïnevervaardiger ná Afganistan.
Die Mianmar polisie het in Julie 398 mense in hegtenis geneem in 253 aparte dwelmverwante voorvalle. ‘n Totaal van 777 kg heroïne, 46 kg opium en meer as ’n halfmiljoen meta-amfetamien pille is gekonfiskeer.
Dié massa heroïne is sewe keer meer as die gemiddelde hoeveelheid van dié dwelmmiddel wat die regering in Mianmar oor die afgelope drie jaar kon konfiskeer.
- Sapa-AFP