Pole: 'Geen druk' op vliegramp-loodse
2011-04-19 18:00
Warschau - Geen bewyse is tot dusver gevind wat daarop sou dui dat druk op die vlieëniers gelei het tot verlede jaar se vliegongeluk waarin die Poolse president, Lech Kaczynski, dood is nie, het aanklaers Dinsdag gesê.
Dit is die jongste verwikkeling in ‘n oor-en-weer-geblameer tussen Warschau en Moskou vir dié ongeluk.
Die ongeluk het op 10 April verlede jaar gebeur en Kaczynski en nege ander mense dood gelaat. Die vliegtuig waarop hulle was, het in digte mis in Smolensk, Rusland, probeer land.
‘n Russiese verslag oor die ongeluk het in Januarie Russiese lugruimbeheerders vrygespreek van enige deel aan die ongeluk en het eerder die Poolse hoof van die lugmag daarvan beskuldig dat hy druk op die bemanning geplaas het om te land in die gure weer.
“In hierdie stadium, met die materiaal wat tot dusver ingesamel is, is daar geen bewyse dat die ongeluk ‘n gevolg was van druk op die bemanning nie,” het Zbigniew Rzepa, woordvoerder van die Militêre Aanklaerskantoor in Pole, gesê.
Die teorie word egter volgens hom nie uitgesluit nie en die ondersoek duur voort.
Die Poolse Eerste Minister, Dondald Tusk, het in Januarie gesê Moskou se verslag is “onvolledig” en dat “slegs sommige Poolse opmerkings in ag geneem is”.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA