Pole stem vir nuwe president
2010-06-20 11:14
Warschau – Pole het Sondag vir ‘n nuwe president gestem nadat president Lech Kaczynski in ‘n vliegramp dood is.
Sy identiese tweelingbroer is een van die kandidate, maar dit lyk onwaarskynlik dat hy die mas sal opkom.
Steekproewe toon dit is hoofsaaklik ‘n resies tussen twee kandidate: die voormalige eerste minister Jaroslaw Kaczynski (61) en Bronislaw Komorowski (58) van die regerende mark-vriendelike Burgerlike Platform.
Die ander agt kandidate het veel minder steun gekry in die peilings.
As nie een van die kandidate meer as 50% van die stemme kry nie, sal daar op 4 Julie nog ‘n verkiesing tussen die twee top-kandidate gehou word.
Dit blyk dat Komorowski, wat ná die president se dood ingestaan het as president, met die louere sal wegstap.
President Lech Kaczynski is op 10 April dood saam met 95 ander Pole, insluitend sy vrou, Maria, en senior amptenare, toe hul vliegtuig in Smolensk, in die weste van Rusland, neergestort het.
Stemmery vir die nasie van 38 miljoen eindig 20:00 (1800 GMT) Sondag.
- Sapa