Plan van Titanic haal R2,5 m. op veiling
2011-05-30 09:04
Londen - ’n Grootskaal-plan van die skip Titanic wat saamgestel is vir die amptelike ondersoek nadat dié bekende passasierskip in 1912 gesink het, het oor die R2,5 miljoen op ’n veiling in Brittanje gehaal.
Die plan, wat ’n deursnit van die skip wys, is net onder die 10 m lank en het sy nuwe eienaar ’n allemintige R2 512 400 uit die sak gejaag.
Die afslaer Henry Aldridge & Son, wat dit opgeveil het, het verwag dat die plan net die helfte van dié bedrag sou haal.
Volgens die afslaer is die plan deur ’n anonieme versamelaar aan ’n private versamelaar verkoop.
Die Titanic het op 15 April 1912 gesink nadat dit ’n ysberg op sy nooiensvaart getref het. Ongeveer 1 500 mense het verdrink.
Die amptelike ondersoek na die oorsaak van die ramp het op 12 Mei 1912 begin.
Byna 100 mense het in dié verhoor van 36 dae getuig. - Sapa-AP
- Volksblad