Pizza-afleweraar vermoor ná hy laat is
2012-10-12 09:30
Puebla, Mexiko – 'n Woedende klant het 'n pizza-afleweraar in Mexiko vermoor omdat hy 40 minute laat was, het owerhede Donderdag gesê.
Die slagoffer se lyk, met sy oë wat geblinddoek en sy hande vasgemaak is, is Maandag in die dorp Tetla, sowat 140 km oos van Mexiko-stad gevind, het die staatsaanklaer se kantoor in die Tlaxcala-staat gesê.
Hy is Saterdagaand laas gesien toe hy 'n bestelling, wat laat was, afgelewer het.
Die 22-jarige klant, wat 'n polisiebeampte geslaan het nadat hy die afleweraar se bromponie ontdek het, het erken hy het die man aangerand en vir vyf ure toegesluit, met die hulp van sy meisie.
Toe die afleweraar probeer weghardloop het, het die klant hom verskeie kere gesteek voordat hy sy lyk op 'n leë perseel gestort het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP