Pienk diamant vir R321m opgeveil
2010-11-18 07:33
Genève – ’n Seldsame pienk diamant het Dinsdag op ’n veiling van die afslaer Sotheby’s $45,75miljoen (sowat R321miljoen) gehaal.
Dit is feitlik dubbel die vorige rekord. Die diamant is nou die duurste steen wat tot nog toe opgeveil is en beklemtoon volgens Sotheby’s die krag van die internasionale juwelemark.
Die reghoekige pienk diamant van 24,78karaat was een van 500 wat te koop op die veiling was.
’n Bekende diamanthandelaar, Laurence Graff, het die wenbod telefonies geplaas.
Die steen is 60 jaar gelede deur die Amerikaanse juwelier Harry Winston verkoop aan ’n anonieme eienaar, wat dit nou vir die veiling beskikbaar gestel het.
Voor die veiling was die raming dat die steen tussen $27miljoen (R189miljoen) en $38miljoen (R266miljoen) sou haal.
Die veiling het $105,05 miljoen (R736miljoen) geïn, wat ’n 17 jaar oue rekord vir juweelveilings verpletter het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters