Pensioenaris skiet drie in straat dood
2011-03-03 21:00
Toulouse - ‘n 78-jarige Franse loodgieter het Donderdag twee dorpsraadswerknemers en ‘n burgerlike in die straat doodgeskiet voordat hy sy jaggeweer op homself gedraai en probeer selfmoord pleeg het, het die plaaslike aanklaer gesê.
Die man het op mense in die straat in Rivesaltes, 'n wynboerdorp in die suidweste van Frankryk, losgebrand, het Jean-Pierre Dreno, die hoofaanklaer in die nabygeleë stad Perpignan, gesê.
"'n 78-jarige Franse loodgieter, wat blykbaar deur 'n moorddadige woede oorval is, het losgebrand op twee munisipale werkers, wat dood is, en 'n burgerlike, wat ook dood is."
Die bejaarde man het homself ernstig gewond en is na 'n hospitaal in Perpignan geneem. Dit was nie onmiddellik duidelik wat die motivering vir die aanval was nie.
Die polisie het die toneel afgesper in Rivesaltes, 'n gemeenskap van sowat 8 000 mense op die wal van die Agly-rivier, waar die skieter alleen in 'n klein huis in 'n smal straatjie gewoon het.
"Ons het nooit enige moeilikheid van hom gehad nie," het 'n buurvrou, Stephanie Maussang, gesê. Sy het gesê sy is stomgeslaan deur die aanval.
'n Ander vrou het gesê die man kon dikwels gesien word waar hy op sy fiets gery en gefluit het.
"Hy was jonk vir sy ouderdom. Daar was geen rede om te dink dat hy so iets sou doen nie."
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP