Pelgrims sterf in busontploffing
2009-12-03 16:00
Damaskus – Sowat ses mense het Donderdag in ‘n massiewe ontploffing op ‘n Iranse bus naby ‘n Shiite-altaar in Sirië se hoofstad gesterf, het televisiestasies berig.
Die ontploffing het in die Sayeda Zeinab van Damaskus gebeur, waar tienduisende Shiite-pelgrims van Iran, Irak en Lebanon jaarliks bymekaarkom om by die graftombe van Zeinab, dogter van die Shiite-martelaar Ali en kleindogter van die Moslem profeet Mohammed, te bid.
Die Arabiese kanaal, Al-Jaazera-pan in Doha, het gesê vyf mense het in die ontploffing gesterf, maar dit kon nie dadelik bevestig word nie.
'n Verslaggewer van Iran se staatstelevisie in Damaskus het gesê die bus het ontplof terwyl dit brandstof by ‘n vulstasie, ongeveer 500m van die altaar, ingegooi het.
Volgens die verslaggewer was die pelgrims besig om uit die bus te klim, wat die getal slagoffers verminder het.
Al-Manar televisie, bestuur deur Lebanon se Hezbollah Shiite burgermag, het gesê die oorsaak van die ontploffing kon ‘n gasbottel in die pelgrims se bagasie gewees het.
Hulle berig dat die bestuurder, sy assistent en ‘n motorwerktuigkundige onder die oorledenes is.
Ooggetuies het vertel dat ambulanse en brandweertrokke hulle na die afgebakende toneel gehaas het.
‘n AFP-fotograaf op die toneel het gesê die meeste skade was agter aan die bus, met dele van die bus wat oor ‘n wye afstand gestrooi is.
Sapa-afp