Pastoor dreig om Koran-besluit te ‘herdink’
2010-09-10 03:17
Gainesville - Die radikale Florida-pastoor Terry Jones het Donderdag gedreig om sy besluit om sy beplande Koran-verbrandingseremonie vir Saterdag, wat wêreldwye veroordeling ontlok het, af te stel, te ‘herdink’.
Slegs ure nadat hy aangekondig het hy gaan die wyd-gekritiseerde seremonie, wat bedoel is om die herdenking van die 11 September 2001-aanvalle op Amerika te herdenk, afstel, het Jones gesê die seremonie is slegs uitgestel.
“Op die oomblik sit ons ons beplande seremonie net tydelik op ys,” het hy gesê.
Die pastoor van die klein evangeliese kerk, The Dove World Outreach Center, het vroeër gesê sy kopskuif was te danke aan ‘n ooreenkoms wat sou meebring dat ‘n omstrede moskee-projek naby Ground Zero in New York elders gebou sou word.
Die beweerde ooreenkoms is egter in duisterheid gedompel toe die imam wat die projek lei, Feisal Abdul Rauf, enige só ‘n ooreenkoms ontken het.
Jones het beweer Rauf was bereid om dit te bespreek en dat hulle Saterdag sou vergader.
“Ons het dit op ys geplaas omdat ons nou regtig teleurgesteld en geskok is, want as dit waar is het hy (die tussenganger met Rauf) duidelik vir ons gelieg,” het Jones gesê ná Rauf se ontkenning.
- Sapa - AFP