Passasier oorleef vliegongeluk
2011-09-02 12:19
Sydney – ‘n Passasier het wonderbaarlik oorleef toe die ligte vliegtuig waarin hy en nog 'n man gevlieg het buite Sydney in die see gestort het en omstanders in die water geduik het om hom te red.
Die vlieënier is in die ongeluk by die noordelike strand in Sydney dood ondanks twee polisiemans wat na die wrak geswem het, se poging om hom te red.
Die vliegtuig het ‘n noodsein gestuur kort voordat dit sowat 50 m vanaf Curl Curl-strand in sterk winde geval het. Die vliegtuig kon op televisie gesien word waar dit op die seebodem gelê het.
‘n Ooggetuie het aan verslaggewers gesê hy was besig om op ‘n nabygeleë bouperseël te werk toe hy die vliegtuig in ‘n sirkel sien vlieg het voordat dit in die see neergestort het.
“Ek en nog ‘n man … ons het gehardloop, uitgeswem, en een man, die passasier, uitgetrek,” het hy aan ‘n plaaslike radiostasie gesê.
“Ons het by die vliegtuig gekom, maar die [passasier] het reeds opgekom en het soort van gedryf. Hy kon nie swem nie, Hy het sy rug sleg seergemaak en ons het toe met hom na die strand geswem.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP