Pasiënte in Siriese hospitale glo gemartel
2011-10-25 11:18
Nicosia – Pasiënte in Siriese staatshospitale word mishandel in ‘n poging deur die regering om op teenkanting toe te slaan, het Amnestie Internasionaal gesê.
“Die Siriese regering het hospitale in wapens van onderdrukking verander in ‘n poging om enige opposisie te onderdruk,” het die groep Maandag in ‘n verslag gesê.
Die verslag beskryf hoe mediese werkers en sekerheidspersoneel in minstens vier staatshospitale pasiënte sleg behandel en selfs martel.
“Hospitaalwerkers wat van mishandeling verdink word, is self ook slagoffers van intimidasie en word self deur marteling in die gesig gestaar,” lui die verslag.
“Dit is skokkend dat die Siriese owerhede sekerheidsmagte vrye teuels gegee het in hospitale,” het Cilina Nasser, ‘n navorser van Amnestie Internasionaal, gesê.
“In baie gevalle mishandel hospitaalwerkers die mense waarvoor hulle veronderstel is om te sorg.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP