Pasiënt sterf toe dokter vir brand vlug
2011-08-26 13:47
Shanghai – ‘n Man het op ‘n operasietafel gesterf toe sy dokter gevlug het ná ‘n brand in die kamer langsaan uitgebreek het, het ‘n hospitaalbeampte Vrydag gesê.
Volgens Hu Yuan, ‘n hospitaalwoordvoerder, is die 50-jarige pasiënt Woensdagaand in ‘n hospitaal in Shanghai dood.
Hy is dood nadat hy 30 minute lank alleen gelos is terwyl hy ‘n operasie ondergaan het om sy been te amputeer.
Die personeellede wat na die pasiënt omgesien het, het die brand aangemeld en met die operasie voortgegaan nadat ‘n verpleegster nie daarin kon slaag om die brand te blus nie.
Die brand is glo deur ‘n ontsmettingsmasjien veroorsaak.
“Terwyl hulle klaargemaak het, het die krag afgegaan en almal weggeloop,” het Hu vertel.
Brandbestryders het die dokters gemaan om nie na die operasielokaal terug te keer nie.
Teen die tyd wat die dokters teruggekeer het, het die pasiënt reeds gesterf. Hy het vermoedelik weens rookinaseming doodgegaan.
Hu erken dat die hospitaal “verantwoordelik is vir die hele ongeluk.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP