Parys: Luislang veroorsaak paniek op trein
2012-01-16 19:06
Parys – 'n Luislang van amper twee meter lank het Sondag paniek op 'n Franse trein veroorsaak toe dit uit 'n sak geglip en deur die treinwa geseil het, het die radiostasie RTL Maandag berig.
Die voorval het op 'n trein plaasgevind wat tussen Parys en die suidelike stad Marseille gereis het.
Die vroulike slang, wat 1.85 meter lank is en ongeveer 25 kilogram weeg, het uit die plastiekboks ontsnap waarin haar eienaar haar vir die reis geplaas het.
Passasiers het gesien hoe die slang oor die vloer seil en haar om 'n sitplek draai voordat dit by 'n lugskag in verdwyn het.
'n Reddingspan het die trein by Marseille ingewag, gereed om die slang te vang wat rustig in die lugskag geslaap het.
Die eienaar van die slang het die nodige reisdokumente vir die reptiel gehad.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA