Paniek ná kragtige skudding in Mianmar
2012-11-11 09:38
Yangon – Minstens twee mense is dood en vyf word vermis ná n kragtige aardbewing Mianmar Sondag getref het, het regeringsamptenare gesê.
Die skudding het grootskaalse paniek in die stad Mandalay veroorsaak.
"Volgens die inligting wat ons op die oomblik het, is twee mense dood en drie beseer as gevolg van die aardbewing, terwyl vyf steeds vermis word," het die amptenaar, wat gevra het dat sy identiteit nie bekend gemaak word nie, aan die nuusagentskap AFP gesê.
Hy het gesê die vermiste mense is 'n groep werkers wat in die Irrawaddy-rivier beland het toe die aardbewing die brug wat hulle besig was om in 'n gebied noord van Mandalay te bou, geskud het.
Een man is dood en drie mense is beseer toe geboue in 'n klein dorpie in die sentrale Sagaing-streek ineengestort het. 'n Vrou is ook dood toe 'n baksteenmuur in 'n dorpie noord van Mandalay ingegee het.
Die skudding, met 'n sterkte van 6,8, se middelpunt was ongeveer 116 km noord van Mandalay, teen 'n diepte van 10 km.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP