Pakistanse vegvliegtuie dood 18 militantes
2011-04-14 20:00
Peshawar - Pakistanse vegvliegtuie het Donderdag toegeslaan op verskeie vermeende wegkruipplekke in ‘n stamgebied wat krioel van Taliban-lede en het minstens 18 militantes gedood, het militêre beamptes gesê.
Die lugaanvalle het militantes in die Baizai-gebied op die grens met Afganistan geteiken, het ‘n plaaslike beampte, Maqsood Amin, aan AFP gesê.
Dieselfde gebied in dié wettelose stamgebied was verlede week die toneel van ‘n bloedige botsing tussen die weermag en militantes. Volgens die weermag is 50 militantes en vier soldate in dié botsing dood.
“Stralers en helikopters het Donderdag op die dorp Soran Darra toegeslaan en twee wegkruipplekke verwoes,” het Amin gesê.
Minstens 18 militantes is dood en 25 beseer in dié aanvalle.
Amerika het dié gebied in Pakistan, wat buite die regering se beheer lê, bestempel as Al-Kaïda se wêreldwye hoofkwartier en die mees gevaarlike plek op aarde.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP