Pakistan veg terug
2009-10-17 11:41
Islamabad – Pakistan het Saterdagoggend ‘n lang verwagte grondaanval op die Al-Kaïda en- Talibanvesting aan die grens van Afganistan in Suid-Waziristan geloods, het amptenare aan AP gesê.
Die grondaanvalle kom na ‘n reeks lugaanvalle op die grens wat die militantegroepe sag gemaak het en duisende inwoners aan die grens van Afganistan laat vlug het.
Die aanvalle kom ook na ‘n vlaag aanvalle deur militantegroepe wat sowat 175 mense in die afgelope twee maande doodgemaak het.
Dié aanvalle het meer druk op die leër van Pakistan geplaas om die rebelle aan te val.
Met die wintermaande om die draai het die weermag egter baie min tyd oor om ‘n groot aanval uit te voer.
Amerika wat al ‘n geruime tyd die Pakistanse leër probeer oortuig het om die militantegroepe uit te skakel wat die land se oppervlak misbruik om aanvalle op Amerikaanse en Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) troepe te beplan, staan Pakistan by.
Die VSA het spoedig toerusting aan hulle gestuur.
Drie amptenare wat met AP gepraat het, het nie baie besonderhede omtrent die aanvalle uitgelaat nie. Hulle het egter gesê die troepe teiken alle buitelandse en Pakistanse militante wat in verskeie dele in die bergagtige streek wegkruip.
-AP