Pakistan stel klokreël in
2009-11-24 14:57
Pakistan – Pakistan het Dinsdag ‘n klokreël in ‘n distrik ingestel, na dodelike botsings met die Taliban militante.
Owerhede het ‘n onbepaalde klokreël in Khar, die hoofstad van die Bajaur distrik, ingestel. Dit is hier waar Amerikaanse beamptes glo Al-Kaïda hul volgende aanvalle beplan nadat daar onlangs groot onluste uitgebreek het.
“Die kruisvuur het vir drie ure aangehou. Ses militante is dood uit weerwraak,” het Adalat Khan, ‘n plaaslike regeringsbeampte gesê.
“Twee burgers is ook doodgeskiet, en vier ander, insluitend twee vrouens, is beseer toe ‘n mortier in ‘n huis gegooi was.”
Gewapen met vuurpyle en swaar gewere, het Taliban-militante ook die Bajaur-hoofkwartiere van die plaaslike polisie aangeval.
“Ongeveer 50 Talibanlede het die aanval begin. Soldate het wraak geneem en ses militante doodgeskiet,” het ‘n sekuriteitsbeampte wat in Khar basseer is, gesê. Hy het bygevoeg dat twee soldate gewond is.
‘n Beampte van die intellegensie-eenheid het die voorval bevestig en gesê huis-tot-huis soektogte is van stapel gestuur na die voorvalle wat daar plaasgevind het.
“Sekere elektriese pale, ‘n petrolpomp en drie winkels is ook in die proses beskadig,” het hy bygevoeg.
Volgens Khan is die owerhede reeds besig om ‘n opname van die skade te maak. Markte, banke, skole en kantore is tydelik gesluit.
- Sapa