Pakistan loop weer deur
2009-10-15 11:52
Lahore - Sewe en dertig mense is dood in 'n vlaag aanvalle deur militante vegters in Pakistan.
Dit volg ná ‘n week van geweld waarin meer as 100 mense reeds hul lewens verloor het.
Twee polisiebeamptes is dood tydens ‘n skietery by ‘n polisieskool in Lahore.
Omtrent agtien mense is dood toe ‘n selfmoordbomaanvaller sy motor voor ‘n polisiekantoor laat ontplof het.
‘n Regeringsgebou, wat onder andere terrorisme-sake behartig, is ook geteiken.
Pakistan se regering is egter vasbeslote om die militante vegters uit te dryf en voort te gaan met sy veldtog teen hulle.
“Die vyand het ‘n guerrillaoorlog begin,” het Rehman Malik, minister van binnelandse sake, gesê.
Pakistan is onder geweldige druk van die VSA om Taliban-vestings in die land uit te wis.
Taliban-vegters en lede van Al-Qaeda gebruik die area rondom Pakistan se grens met Afganistan as 'n basis om aanvalle op Westerse magte in Afganistan te loods.
- Sapa/News24