Pakistan-krisis raak al erger
2010-08-04 07:11
Islamabad – Die ergste oorstromings in Pakistan in menseheugenis het die lewens van meer as 3 miljoen mense verwoes, het ’n woordvoerder van die Verenigde Nasies (VN) Dinsdag gesê.
Die katastrofe, wat byna ’n week gelede begin het, het reeds meer as 1 400 lewens geëis.
Die situasie sal waarskynlik vererger aangesien nog moesonreën voorspel word en die uitbreking van watersiektes soos cholera ’n gesondheidskrisis kan veroorsaak.
Abdul Sami Malik, ’n woordvoerder van die VN-kinderfonds, Unicef, het gesê 1,3 miljoen van die 3 miljoen mense het hul huise en lewensbestaan verloor.
Die situasie laat vrae ontstaan oor die leierskap van pres. Asif Ali Zardari.
Baie inwoners het alles verloor en sê hulle het geen waarskuwing oor die oorstromings gekry nie.
Die Amerikaanse ambassade het onmiddellike humanitêre hulp van $10 miljoen (sowat R7,2 miljoen) aangekondig. Die Europese Unie gaan €30 miljoen (sowat R289 miljoen) skenk en China altesaam 10 miljoen joean (R10,7 miljoen).
“Die grootste probleem is die uitbreek van siektes, veral in die Nowshera-distrik, waar honderde dooie diere oral rondlê,” het Adnan Khan, ’n woordvoerder van die rampbestuursowerheid in die Kaiber-Pakhtunkhwa-provinsie, gesê.
Hy het bygevoeg die meeste paaie is oorstroom en 91 brûe is weggespoel of beskadig.
Sommige inwoners kla dat hulle geen of min noodkosvoorraad ontvang nie, terwyl die prys van kos skerp gestyg het omdat die landbousektor verwoes is.
- Reuters