Pakistan: Vloede raak 13 miljoen mense
2010-08-10 10:00
Minora – Die vloede in Pakistan, die ergste in sowat 80 jaar, raak meer mense as die vorige drie megarampe wat die planeet getref het.
Sowat 13 miljoen mense, 8% van die land se inwoners, is regstreeks deur die vloed geraak, van wie 2 miljoen dakloos en 1 600 dood is.
Die vloedwater het van die noorde tot in die suide van die land meer as 1 000 kilometer ver verwoesting gesaai.
Soldate en noodwerkers het Maandag gesukkel om sowat ’n miljoen gestrande mense te bereik as gevolg van grondverskuiwings wat veroorsaak is deur die vloedwater, wat uiteindelik besig was om te sak.
As gevolg van die swak weersomstandighede kan helikopters nie opstyg om noodsaaklike voorraad soos kos en medisyne na gemeenskappe te neem wat dit dringend nodig het nie.
In die Swatvallei, noordwes van Islamabad, stap soldate en noodwerkers of gebruik muile om mense te bereik wat desperaat is vir hulp.
- SAPA, Reuters
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA