Saak oor godslastering uitgegooi
2012-11-20 12:46
Islamabad – ‘n Pakistanse hof het Dinsdag ‘n saak teen ‘n Christen-meisie wat daarvan beskuldig word dat sy die Moslem-geloof beledig het, uitgegooi.
Die saak het is wyd veroordeel.
Rimsha Masih het drie weke in 'n tronk vir volwassenes deurgebring ná sy op 16 Augustus in hegtenis geneem is omdat sy glo bladsye uit die Koran verbrand het.
Sy is in September op borgtog vrygelaat.
Die polisie het intussen in die hof aangevoer dat sy nie skuldig is nie.
“Die hof het die saak uitgegooi, Rimsha is onskuldig,” het Akmal Bhatti, haar prokureur, gesê.
Godslastering is ‘n uiters sensitiewe saak in Pakistan, waar 97% van die land se bevolking Moslems is. Onder die land se streng wette kan die doodstraf selfs in sulke gevalle opgelê word.
Paul Bhatti, die land se enigste Christelike parlementslid, het die hof se besluit verwelkom en gesê geregtigheid het geskied.
“Hierdie besluit sal ‘n positiewe beeld van Pakistan na die res van die wêreld uitdra en sal wys dat daar geregtigheid vir almal in die land is,” het Bhatti gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP