Pakistan: Polisie in beheer by moskee
2010-05-28 14:35
Lahore – Die polisie in Pakistan het Vrydag gesê hulle is in beheer by een van die twee moskees wat deur gewapende mans in Lahore, Pakistan aangeval was.
“Die situasie by die moskee is onder beheer,” het Rana Ayaz, ‘n senior polisiebeampte in die Model Town woonbuurt gesê.
“Daar was glo drie aanvallers. Hulle het die moskee van agter betree en skielik op die mense losgebrand. Hulle was gewapen met granate sowel as ander wapens,” het hy gesê.
“Hulle het daarna op die dak geklim, en een polisieman gewond. Die moskee in die omgewing is nou onder beheer. Altesaam 17 mense is dood en 40 ander beseer,” het hy gesê.
Twee van die aanvallers is in hegtenis geneem, waarvan die een ernstig beseer is.
Geo TV het beelmateriaal van die tweede moskee in die Garhi Shahu omgewing uitgesaai en gesê die situasie by dié moskee is ook onder beheer.
Beamptes was egter nie onmiddellik beskikbaar om dit te bevestig nie.
- Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter.