Pakistan: Dodetal styg na 16
2012-02-07 11:07
Lahore, Pakistan – Reddingswerkers het Dinsdag onverpoos deur die puin na oorlewendes gesoek nadat 'n fabriek in Lahore, Pakistan ineengestort en die dodetal tot 16 gestyg het.
Die fabriek, wat drie verdiepings hoog was, het entstowwe vir veeartse vervaardig. Daar word vermoed dat 'n gassilinder wat ontplof het dalk die ongeluk veroorsaak het, het die polisie Maandag gesê.
Reddingswerkers het deur die nag gewerk en met hul kaal hande deur die puin gesoek om die hulpkrete, meestal van vroue en kinders wat vasgekeer is, te beantwoord.
Werkers en vrywilliges het alles tot hul beskikking gebruik insluitend hamers, byle, beitels en grawe, om die beseerdes wat met stof bedek was, uit te kry.
"Reddingswerkers het 13 beseerdes uit die puin gered," het 'n nooddiensbeampte aan die nuusagentskap AFP gesê.
Huilende familielede het by die toneel saamgedrom en reddingswerkers aangemoedig om hul soektog te verskerp.
Altesaam 10 vroue, drie meisies, twee seuns tussen die ouderdomme van 12 en 14 en een ongeïdentifiseerde man, is onder diegene wat gesterf het.
Daar is vrese dat die dodetal verder kan styg.
Dit is nog nie bekend hoeveel mense steeds onder die puin vasgekeer is nie, maar beamptes het gesê dit is moontlik dat tussen 35 en 50 mense dalk nog vasgekeer is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP