Pakistan: 23 trougaste sterf in busongeluk
2012-06-04 08:32
Islamabad – Minstens 23 Pakistanse trougaste, waaronder ses kinders, is dood nadat 'n bus by 'n bergkloof naby die hoofstad Islamabad afgestort het, het die polisie Maandag gesê.
Altesaam 60 mense is beseer nadat die bestuurder laat Sondag om 'n skerp draai beheer oor die voertuig verloor het. Die ongeluk het sowat 25 km oos van Islamabad gebeur.
Daar was altesaam 97 mense aan boord van die bus wat na die troue in die Chakwal-distrik, sowat 100 km suid van die hoofstad onderweg was.
Die bus het die bruidspaar, wat in 'n aparte voertuig gery het, vergesel.
"Minstens 23 mense, waaronder ses kinders en baie vrouens, is dood en 60 ander beseer nadat 'n bus by 'n bergkloof afgestort het," het Jawad Tariq, 'n polisiebeampte aan AFP gesê.
Die ongeluk het Sondag om 22:30 (17:30 GMT) plaasgevind.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP