Paartjie verkoop baba vir seun se behandeling
2012-08-10 19:34
Nieu-Delhi – 'n Paartjie in die noordweste van Indië is in hegtenis geneem nadat hulle glo hul pasgebore baba, wat sewe dae oud was, verkoop het sodat hulle hul siek seun se behandeling kon bekostig, het die polisie Vrydag gesê.
Sandhya Devi, haar man en drie ander is Donderdag aangekeer, het YR Phansal, distrik-polisiehoof van Sriganganagar, gesê.
Die paartjie het gesê armoede het hulle gedwing om hul pasgebore baba te verkoop sodat hulle vir die behandeling van hul tweejarige seun kon betaal.
Hulle is op borgtog vrygelaat en die baba is intussen aan die paartjie terugbesorg, het die polisie gesê.
Die swanger Devi is ongeveer $ 722 deur 'n paartjie, wat hul bure was, aangebied indien sy aan 'n seun geboorte skenk en die baba vir hulle gee, het die NDTV-nuuskanaal berig.
Ashok Kumar, pa van die pasgebore baba, het gesê sy oudste seun was siek en dis hoekom hulle hul baba laat aanneem het. Volgens hom het hulle slegs die helfte van die geld in ruil vir die baba gekry.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA