Paartjie vas ná hulle dogter (8) in hok toesluit
2013-01-30 07:20
Los Angeles – 'n Amerikaanse vrou en haar kêrel is in hegtenis geneem nadat hulle hul agtjarige aangenome dogter in 'n hok toegesluit het toe hulle gaan fliek het, het die polisie Dinsdag gesê.
Cindy Patriarchias en Edmond Gonzales (37) is albei aangekla van kinderverwaarlosing nadat die meisie, wat 'n ontwikkelingstoestand het, in 'n tuisgemaakte hok in hul huis in Las Cruces, Nieu-Mexiko, gevind is.
Die hok is 74 cm breed, 152 cm lank, en 126 cm hoog en het twee sluitpenne aan die deur gehad. 'n Babamatras is ook in die hok gevind, het die polisie in Las Cruces in 'n verklaring gesê.
Die polisie is Vrydagaand na die paartjie se huis ontbied nadat hulle 'n wenk ontvang het dat die meisie alleen by die huis is.
Die paartjie het hul ander drie kinders uitgeneem om 'n fliek by 'n nabygeleë skool te gaan kyk. Patriarchias se vervreemde man het die polisie gebel toe hy by die skool opdaag en gesien het die meisie is nie saam met haar ma en die ander kinders nie.
Luidens die polisieverklaring het die paartjie 'n uur later by die huis opgedaag.
"Terwyl beamptes die huis deursoek het, het hulle 'n hok in die hoek van 'n slaapkamer gevind. Die paartjie se agtjarige dogter was in die hok."
Die meisie is uit die hok verwyder en het mediese behandeling ontvang. Die polisie het verder gesê sy het nie enige fisiese beserings opgedoen nie, maar beamptes het vasgestel dat sy aan mikrosefalie ly. Dit is ’n toestand waar die brein beduidend kleiner is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP