Paartjie op wêreld-fietstoer doodgery
2013-02-18 09:29
Bangkok – ‘n Britse paartjie wat reeds 18 maande van ‘n fietstoer om die wêreld voltooi het, is dood in ‘n ongeluk in Thailand, het die polisie Maandag gesê.
Mary Thompson en Peter Root van die Britse eiland Guernsey het reeds deur Europa en Sentraal-Asië gery. Hulle het hul reise, wat ook 'n tog deur Tadjikistan, Kazakstan en China ingesluit het, op film en in ‘n blog vasgelê.
Die twee, wat beide in hul dertigs was, het Woensdag op die skouer van ‘n hoofpad in die oostelike Chachoengsao-provinsie gery toe ‘n bakkie uit sy baan beweeg en hulle getref het, het die polisie gesê.
“Hulle was toeriste wat deur verskeie lande gereis het voordat hulle Thailand bereik het,” het lt. Chaiyong Butrwan aan AFP gesê.
Die 25-jarige Thaise bestuurder, wat op die toneel in hegtenis geneem is, het oorgeleun om sy hoed van die vloer af op te tel en die voertuig het uit sy baan geloop en die paartjie getref.
Die Britse ambassade in Bangkok het gesê hy is bewus van die sterftes en dat die slagoffers se families in kennis gestel is.
Thompson en Root, wat vroeër die maand in Thailand aangekom het, het reeds deur 23 ander lande gery sedert hulle Geurnsey op 12 Julie 2011 verlaat het. Dié inligting het op hulle blog, www.twoonfourwheels.com, verskyn.
Die bestuurder is op borgtog vrygelaat. Hy kan 10 jaar tronkstraf of ‘n boete van 20 000 baht (sowat R5 900), of beide, opgelê word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP