Pa van 12-jarige ma in hegtenis
2011-04-05 23:00
Den Haag - Die polisie in Nederland het die pa van ‘n 12-jarige meisie wat verlede maand geboorte geskenk het, in hegtenis geneem en gesê hy word daarvan verdink dat hy sy dogter seksueel mishandel het.
Aanklaers sê hulle het “ernstige vermoedens” dat die 52-jarige sy dogter mishandel het en dat dit tot haar swangerskap gelei het.
Die inhegtenisneming Dinsdag is die jongste wending in ‘n saak wat reeds dié land geskok het. Die nuus het verlede maand na vore gekom dat die meisie geboorte geskenk het tydens ‘n skooluitstappie. Sy het glo nie besef sy is swanger nie.
‘n Woordvoerder van die aanklaers, Kirsten Smit, het gesê die inhegtenisneming volg op forensiese analise van die man en die babadogtertjie se DNS, wat getoon het daar is ‘n “aansienlike” kans dat hy die pa is.
Ingevolge Nederlandse privaatheidswette mag nie die pa of die dogter se naam bekend gemaak word nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP