Pa skiet seun (7) per ongeluk dood
2012-12-09 09:39
Washington - 'n Amerikaanse man wat in 'n bakkie geklim het terwyl hy 'n vuurwapen vasgehou het, het Saterdag per ongeluk sy sewejarige seun doodgeskiet, het die polisie gesê.
Die tragedie het in East Lackawannock, ongeveer 100 km noord van Pittsburgh, Pennsilvanië, plaasgevind.
Die pa is geïdentifiseer as Joseph Loughrey, 44. Sy seun, Craig, is in sy bors geskiet, het 'n verklaring deur die polisie in Pennsilvanië gelui.
Die pa en seun was besig om in hulle bakkie te klim ná 'n besoek aan die Twigs Reloading Den, 'n winkel wat vuurwapens verkoop.
Loughrey het aan die polisie gesê hy het sy vuurwapen se magasyn leeggemaak, maar het nie besef dat daar nog 'n patroon in was nie, het die Pittsburgh Tribune-Review berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP