Ouma troef Donald Trump
2009-11-25 13:41
New York - 'n 85-jarige vrou wil die Amerikaanse sakemagnaat Donald Trump se planne om 'n luukse gholfoord van R11 miljard in die noordooste van Skotland te bou in die wiele ry.
As dié ontwikkeling voortgaan, kan Molly Forbes haar huis kwyt wees.
Forbes het 'n aansoek by die hof in Edinburgh ingedien waarin sy Trump se ontwikkelingsplanne teenstaan.
Sy voer aan dat Trump versuim het om die nodige assesserings te doen en het nie genoeg inligting gegee hoekom hy nou die grond nodig het nie. Trump het vroeër gesê hy het nie die grond nodig vir 'n ontwikkeling nie.
"Mnr. Trump het toestemming gekry om my huis te vernietig, maar ek wil nie die huis verkoop of uit die huis gedwing word nie," het Forbes gesê.
"Nooit in my lewe het ek gedink ek kan uit my huis geskop word nie, en dit oor 'n gholfbaan."
Trump kan dalk aansoek doen vir verpligte koopkontrakte as Forbes en die res van die eienaars weier om die grond te verkoop.
"Ek is seker die raad het hul besluit goed deurdink," het Trump in 'n verklaring gesê.
Dié ontwikkeling was verlede jaar in die soeklig toe die Skotse regering ingegryp het ná die Aberdeenshire munisipaliteit die eerste aansoek van die hand gewys het.
In September vanjaar het die munisipaliteit dié aansoek goedgekeur vir vyf stukke grond, insluitend dié waar Forbes woon.
– Sport24