Ouma rand kleinseun aan oor spek
2011-06-30 22:57
Clifton Heights (Pennsylvania, Amerika) – ‘n Amerikaanse vrou van Pennsylvania word daarvan beskuldig dat sy haar negejarige kleinseun geslaan en met ‘n tuinslang in die gesig gespuit het omdat hy te veel spek geëet het.
Luidens ‘n berig in die Delaware County Daily Times is Marilee Ann Kolynych Dinsdag in hegtenis geneem.
Volgens die polisie in Clifton Heights was die 63-jarige Kolynych kwaad vir haar kleinseun omdat sy gemeen het hy het te veel spek vir ontbyt geëet en nie genoeg vir almal gelos nie.
Volgens die polisie het Kolynych die seun só hard geslaan dat hy omgeval het. Volgens ooggetuies het sy hom toe vasgepen, teen sy bene geslaan en hom toe met die tuinslang in die gesig gespuit.
Hy het nie mediese behandeling benodig nie.
Kolynych word aangehou. Haar borgtog is op $25 000 (sowat R169 000) gestel. Dit is nie duidelik of sy ‘n regsverteenwoordiger het nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP