Ouma in wolke oor dogter (10) se baba
2010-11-04 09:49
Jerez De La Frontera, Spanje – ’n Sigeunerin van Roemenië sê sy is in die wolke nadat haar tienjarige dogter ’n kind in die wêreld gebring het.
Die nuwe ouma het ook gesê sy verstaan nie hoekom mense so geskok daaroor is nie.
Die baba is verlede week in ’n staatshospitaal in Jerez de la Frontera gebore. Dit het ná die geboorte goed met ma en baba gegaan.
Die tienjarige se ma, wat in die 30 is en net as Olympia bekend staan, het Woensdag aan verslaggewers gesê die baba se pa is ’n 13-jarige wat in Roemenië woon en dat die twee se paaie intussen geskei het.
Die nuwe ma en haar baba beplan om in Spanje aan te bly. Olympia het gesê sy verstaan nie waaroor die groot bohaai gaan nie.
Sy en haar dogter is albei Roemeense sigeuners en dit is hul gebruik dat meisies jonk trou, al is dit teen die wet in Roemenië. Daar mag meisies op 16 met hul ouers se toestemming trou en op 18 daarsonder.
Kragtens die Spaanse wet is dit kindermishandeling om seks met iemand jonger as 13 te hê, maar dié geval is ingewikkeld omdat die pa ook minderjarig is.
- Sapa - AP