Oudste vrou in Amerika sterf
2009-11-18 12:07
New York - ‘n Vrou wat vermoedelik die oudste persoon in Amerika en die derde oudste in die wêreld was, het in ‘n verpleeghuis op die ouderdom van 114 jaar gesterf.
Olivia Patricia Thomas het in die St. Frances-verpleeghuis, waar sy sedert 2004 woon, naby Buffalo in die staat van New York, gesterf.
Thomas word onthou as ‘n toegewyde tuinier wat regoor die wêreld gereis het.
‘n Gerontologie (studie van ouderdomsverskynsels) navorsingsgroep, wat honderdjariges volg, het gesê Thomas is die oudste persoon in Amerika en is op 29 Junie 1895 gebore.
Die oudste persoon ter wêreld is vermoedelik Kama Chinen van Japan, sy is een maand en 19 dae voor Thomas gebore.
Mary Josephine Ray is een week jonger as Chinen, dié honderdjarige is in Kanada gebore en woon nou in Manchester, Engeland.
- Sapa-AP