Oud-premier van Rhodesië se plaas gegryp
2012-12-07 15:00
Harare – Die plaas van die voormalige premier van Rhodesië, Ian Smith, is eindelik deur amptenare van Robert Mugabe van sy familie weggevat, het IOL Vrydag berig.
Mugabe se grondminister het die Gwenoro-plaas, waar Smith vir meer as 50 jaar met sy familie gewoon het, aan 'n "universiteit" in Zimbabwe gegee.
Dit was op die plaas in sentraal-Zimbabwe, 225 km suidoos van Harare, waar Smith se as gestrooi is ná sy dood, vyf jaar gelede in Kaapstad.
Sy destydse plaasbestuurder, Owen Jarman, het Donderdag gesê: "Die twee naburige plase is tien jaar gelede gevat, maar ons het almal geglo dat die een, die klein woonplaas, sal oorleef. Dit is egter nie die geval nie en ons is in September gesê om te gaan, so dit is wat ons nou doen."
Jarman het die 1 618-hektaar plaas bestuur toe Smith in Harare gaan woon het, nadat sy vrou, Janet, in 1994 oorlede is.
Smith het Zimbabwe verlaat toe sy enigste kind, Alec, in 2006 dood is en het na Kaapstad verhuis om naby sy stiefkinders te woon.
Hy het Gwenoro, wat "plek van die kudu" beteken, in 1948 gekoop. Dit was die jaar wat hy getrou het en 'n setel in die parlement vir die Rhodesië Front-party gewen het.
Smith was 'n suksesvolle vleis- en sitrusboer, maar het in 'n klein huisie op Gwenoro gewoon.
Jarman het gesê hy is besig om op te pak en probeer nou om die 500 stuk vee te verkoop en vergoedingspakette aan afgedankte werkers te betaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
– IOL