Oslo-skieter wil erepenning vir dade hê
2012-02-06 22:59
Oslo – Die regse ekstremis wat 77 mense afgemaai het in die ergste vredestydse massamoord in Noorweë, het in die hof gesê hy verdien ‘n erepenning vir die bloedvergieting.
Anders Behring Breivik het ook Maandag in die Oslo-distrikhof daarop aangedring dat hy vrygelaat word.
Hy het sy arms uitgestrek, wat volgens sy prokureur, Geir Lippestad, ‘n “tipe regse ekstremistiese begroeting” is.
Breivik het aan die hof gesê die aanvalle op 22 Julie – wat deur ‘n bom, ‘n geweer en ‘n rewolwer uitgevoer is – was ‘n aanval op “verraaiers” wat immigrasie omhels om ‘n “Islamitiese kolonialisering van Noorweë” aan te moedig.
Hy het weereens erken dat hy die bom buite die regering se hoofkwartiere in Oslo geplant het en op mense by ‘n jeugkamp van die Arbeidersparty op die eiland Utoya losgebrand het. Hy het egter kriminele aanspreeklikheid ontken.
Sowat 100 oorlewendes en familielede van die slagoffers het in ongeloof toegekyk toe Breivik gevra het of hy vrygelaat kan word.
Hy het ook vir die regter gesê hy behoort ‘n militêre erepenning te kry vir Noorweë se dodelikste vredestydse aanvalle.
Sy formele verhoor begin op 16 April.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP