Osama bin Laden ‘al 5 jaar in Pakistan’
2011-05-07 13:07
Islamabad. – Een van Osama bin Laden se vroue het aan Pakistanse ondersoekers gesê hy en sy familie het al vir vyf jaar in die woning gebly waar hy deur magte van die VSA doodgeskiet is.
’n Veiligheidsbeampte, wat die vrou geïdentifiseer het as Amal Ahmed Abdulfattah – die jongste van Bin Laden se drie vroue – het gesê sy is in die skietaanval gewond.
Die Pakistanse weermag en die spioenagentskap Inter-Services Intelligence is onder toenemende druk om te verduidelik hoe dit moontlik was vir Bin Laden om al die tyd ongemerk in Pakistan te bly.
Die land se veiligheidsmag het 15 of 16 mense van die skuiling gevange geneem nadat die Amerikaanse magte Bin Laden se lyk verwyder het, het die beampte gesê. Sy drie vroue en verskeie kinders is ook onder dié groep.
Pakistanse veiligheidsbeamptes het gesê nie Bin Laden of sy kamerade het weerstand in die aanval gebied nie. “Uit leidrade en bewyse blyk dit daar is net ingestorm en skote afgevuur,” het een van die beamptes gesê. Die weermag het erken sekere intelligensiemaatreëls het misluk.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters