Orkaan eis honderde
2009-11-09 10:11
El Salvador - Meer as 100 mense is dood in modderstortings en vloede na swaar reëns in El Salvador oor die naweek.
‘n Koue front het kort op die hakke van Orkaan Ida die land getref en ongewone swaar reëns tot gevolg gehad.
Verwoesting is ook in ander dele van die streek veroorsaak en 200 000 mense in die Suide van Mexiko is deur die weersomstandighede geaffekteer.
Sestig mense is in San Salvador, die hoofstad van Salvador, oorlede.
'n Verdere 60 is as vermis verklaar.
In San Vicente, ‘n dorpie aan die voet van ‘n vulkaan, is 40 mense in modderstortings oorlede.
Een modderstorting het 8km ver gestrek en talle klein dorpies is beskadig.
President Mauricio Funes het ‘n nasionale noodtoestand verklaar en het onderneem dat geaffekteerde gebiede spoedig finansiële hulp sal ontvang.
- Sapa